7 Voordele van bak-en-brou saam met jou kleuter 

Wenk: Dit gaan oor meer as die foto van die sjokolade-besmeerde gesiggies nadat hulle die bakke uitgelek het. 

Wat leer ons kinders wanneer ons saam met hulle bak? 

Die kort antwoord: Waarskynlik meer as wat ons besef! 

Saam bak kan pret wees, en gewoonlik wanneer ons dit saam met ons kleuters aanpak, LEKKER morsig. Moet egter nie toelaat dat jou liefde vir ‘n skoon kombuisvloer jou keer om saam met jou kinders lekker dinge in die kombuis aan te pak nie – dit is die ekwivalent van ‘n verskeidenheid vakke alles-in-een.

Hier is ‘n vinnige opsomming:

  • Taalvaardighede: Deur al die bestanddele en toerusting te benoem brei kinders hulle woordeskat uit. Sê vir hulle wat om te doen indien hulle nog nie self kan lees nie, en laat hulle dan vir jou ook verduidelik waarmee hulle besig is terwyl hulle die stappe uitvoer.
  • Wiskundige begrippe: Baie wiskunde-juffies sal vir jou sê, as jy jou kind aan wiskunde wil blootstel en hulle daarin wil help ontwikkel, bak saam met hulle. Hulle leer van verskeie afmetings, breuke, en tel verskeie dinge in die proses af.
  • Oefen aandag en konsentrasie: Kinders leer om betrokke te bly van die eerste stap tot en met die laaste een. Vir jonger kinders is dit dalk beter om met makliker resepte met minder stappe te begin (soos hierdie maklike soetmieliebrood).
  • Leer belangrike lewensvaardighede: Jou kind kan tydens julle bak-en-brousessies leer hoe om eiers te breek, te klits, items te sny (gebruik ‘n kleutervriendelike mes), hoe om die mikrogolf te gebruik, hoe om vloeistowwe oor te gooi sonder om te mors, ens. Gee jou kind gerus ‘n kans om hierdie vaardighede te oefen – hulle verbaas jou dalk net!
  • Bou ‘n gesonde uitkyk aangaande kos: Deur van ‘n jong ouderdom af deel te neem aan gereelde kosmaaksessies, leer kinders dat dit normaal is om vir hulleself kos voor te berei (eerder as om gereeld wegneemetes te koop). Hulle bou selfvertroue in hulle vermoëns om lekker, gesonde kosse voor te berei.
  • Bou selfvertroue: Om regtig betrokke te wees by die maak van ‘n gereg help kinders om ‘n gevoel van genoegdoening te ervaar. Hulle voel dat hulle iets noemenswaardig voltooi het, en dit dra om die beurt ook by tot die ontwikkeling van hulle onafhanklikheid.
  • Bou sterk familiebande: ‘n Familie wat saam kosmaak, is ook ‘n familie wat saam leer, eet en lag. Kinders wat floreer op kwaliteittyd saam met hulle ouers baat veral by hierdie tipe aktiwiteite.

Het jy enigsins meer oorreding nodig om op ‘n gereelde basis saam met jou kinders te bak-en-brou? Ons het nie so gedink nie!

Ons gaan gereeld op ons blog ‘n lekker resep deel wat die gesin maklik saam kan maak. Druk gerus die resepte uit en bêre dit in ‘n spesiale lêer vir die kinders se eerste Kleuter Resepteboek – hier is ‘n gratis voorblad vir daardie einste lêer.  

Kry die voorblad vir die NetKids-Resepteboek HIER:

Teken ook gerus in vir ons nuusbrief onderaan hierdie bladsy om seker te maak dat jy nie enige resepte mis nie.

Lekker bak, liewe lesers!

Nog oulike artikels…

Lekker Vadersdag-idee’s (PDF)

Hier is drie oulike idee’s wat die jonger kinders (met ‘n klein bietjie hulp) hierdie Vadersdag vir Pappa kan maak. Die idee’s is vinnig en maklik uitvoerbaar, en gaan daardie Pappa se hart sommer WARM maak!

Wilde Diere – Gratis Aktiwiteite PDF

Hier is ‘n oulike aktiwiteit wat jy gerus vir jou 3 tot 5-jariges kan uitdruk. Hulle beïndruk jou dalk net met hulle kennis oor waar verskillende tipes diere se natuurlike habitat is.

Beste Tuisgemaakte Klei

Vanuit ervaring kan ons sê dat min winkelrak-kleiprodukte heeltemal so lekker speel (of so lank hou) soos ‘n goeie tuisgemaakte een. Met dit in gedagte deel ons graag ‘n wenresep wat gereeld hier by ons gemeng word, in elke kleur wat ons kinders se harte begeer.

Ons Bak Saam: Maklike Soetmieliebrood

Hierdie is die broodresep waarvoor jy nog altyd gewag het – vinnig, maklik en absoluut heerlik!
Laai gerus hierdie resep se PDF-weergawe af en bêre dit in jou NetKids-resepteboek.

7 Voordele Van Bak-En-Brou Saam Met Jou Kleuter

Moenie toelaat dat jou liefde vir ‘n skoon kombuisvloer jou keer om saam met jou kinders lekker dinge in die kombuis aan te pak nie – dit is die ekwivalent van ‘n verskeidenheid vakke alles-in-een…

SKRYF IN

Kry kennisgewings van ons nuutste blog-inskrywings – met oulike idee’s, interessante artikels en gratis hulpmiddels.