WIE IS ONS?

Die mense agter NetKids

NetKids is ‘n hulpmiddel vir elke ouer met jonger kinders – ‘n waardevolle stukkie toerusting wat jou bemagtig om jou kinders in hulle vroeë ontwikkeling te ondersteun.

elke ouer se vraag

Doen ek genoeg om my kind se ontwikkeling te ondersteun?

’n Liefdevolle, ondersteunende omgewing vol geduld en begrip vir verskeie ontwikkelingsfases (en hul gepaardgaande uitdagings) bly die belangrikste faktore in ’n kind se ontwikkeling. Naas hierdie omgewing is daar maniere om ’n kind se ontwikkeling aan te moedig en gebalanseerd te hou – en hiermee kan NetKids jou kind help.

Die NetKids-program vind aanlyn plaas in die vorm van daaglikse interaktiewe sessies van sowat 30 minute elk.
Ons program word in Afrikaans aangebied en ons aanbieders is passievol, geesdriftig, kundig en ervare in hul unieke belangstellingsvelde.
ONTMOET ONS SPAN

Die NetKids-Span

Hierdie is die gesigte en name wat voor en agter die skerms hulle tyd en kennis belê, om die NetKids-program na Afrikaanse huise regoor die wêreld te bring. 

Leané de Wet

Leané de Wet

Aanbieder: Tannie Geduld

Leané is die stigter van en brein agter NetKids. Hierdie platvorm is gebore uit haar eie behoeftes en frustrasies as werkende ma, wat sy ook oral om haar by ander gesinne ervaar het. 

Sy is ‘n ma van twee bedrywige mannetjies, probleemoplosser van aard, en geanker in haar geloof – iets wat deur haar hele menswees uitgestraal word. Sy staan aan die stuur van NetKids, gewapen met haar kwalifikasie en ervaring in die onderwys, asook haar onblusbare entoesiasme en liefde vir kinders.

Die NetKids gaan vir Leané leer ken as ‘Tannie Geduld’. 

Nadia Botes

Nadia Botes

Program: FIT

Nadia Botes (of ‘Tannie Hoop’) is ‘n sprankelmens en ‘n gekwalifiseerde biokinetikus. Sy kan met trots sê dat sy die krag van beweging, groot- en kleinmotories, in vroeë kinderontwikkeling deeglik verstaan. Sy het ‘n passie om kinders motories te help ontwikkel, en sodoende hulle leer- en fisiese vermoëns positief te beïnvloed.

FIT (Fun Innovative Training) bied prettige, ouderdomsgebasseerde oefeninge om kinders se lyfies sterk en slim te maak. Die program dra by tot fiksheidskomponenete soos krag, soepelheid, stabiliteit, koördinasie, balans, kardiovaskulêre ontwikkeling, en nog vele meer. 

Janine Joubert

Janine Joubert

Conservation Kidz

Janine Joubert is ‘n ma van twee seuntjies. Hulle noem Jeffreysbaai ‘huis’, maar reis gedurig die hele Suid-Afrika en Afrika vol, ter wille van safari- en wildlewe-videografie en fotografie (deesdae effens minder agv die kinders!).
Janine se passie is die natuur, wilde diere, Afrika en haar perd. Sy gaan die NetKids weekliks op ‘n mini-safari neem, waar hulle oor die asemrowende wonders van fauna en flora gaan leer.
Tenille van der Merwe

Tenille van der Merwe

Einstein Hands

Tenille is mede-eienaar van Einstein hands en is baie passievol oor vroeë kinderontwikkeling, veral oor beweging in die leerproses. Sy kom self vanuit ‘n sport-agtergrond en verstaan hoe ‘n mens se fisiese liggaam met bewegings en die brein as een sisteem moet werk om die leerproses te optimaliseer.
Einstein Hands gebruik kinetiese leer om geheelbreinontwikkeling te bevorder, deur spraak met gebare te ondersteun. Die program fokus op die beweging van arms, hande en vingers wat ‘n kombinasie van fyn- en groot motoriese bewegings insluit en direk gekoppel is aan leer.  Die Einstein Hands-klassies gaan deur Nadia (Tannie Hoop) aangebied word.
Lily

Lily

I Am Art: Kuns en Kreatiwiteit

Lily (Tannie Liefde) is passievol oor die lewe, die natuur, kuns, bergklim, klasgee, en musiek. Alles wat sy doen, doen sy met entoesiasme en liefde.

Lily werk tans as voltydse kunstenaar, en gee reeds sedert 2012 kunsklasse vir kunsgieriges van alle ouderdomme.
Sy gaan die Netkids op ‘n kreatiewe reis vat waar hulle in ‘n verbeeldingryke omgewing meer oor ‘n verskeidenheid onderwerpe gaan leer – dit sluit kleure, vorms en nuwe skeppings in. Dit dra alles by tot fynmotoriese, visuele, ouditiewe, en kognitiewe ontwikkeling.

Mari Stevens

Mari Stevens

Mari Stevens Music

Mari (Tannie Vreugde) is ‘n mamma van twee woelige seuntjies, lief vir die buitelewe en hou steeds van speel. As ‘n privaat musiekjuffrou, musikant en gesertifiseerde musiekterapeut werk sy gereeld met diverse groepe mense. 

As ‘n heel-brein aktiwiteit het musiek die spesiale vermoë om verskeie ontwikkelings areas speel-speel aan te spreek. Om te sing of na musiek te luister dra by tot geheue en ouditiewe ontwikkeling, en help kinders om die klanke en betekenis van woorde te leer. Om op musiek te dans en beweeg dra tot motoriese ontwikkeling by, en bied ‘n geleentheid vir emosionele en kreatiwe uitdrukking.

Maar, bo alles, bring musiek vreugde!

Ons is baie opgewonde om via hierdie program, met ’n Christelike grondslag, insette in ons kosbare kinders se lewe te lewer. Ons harte is ook daarop gemik om ouers by te staan in die reusetaak wat op hul skouers rus. Tussen werk, huishoudings, aktiwiteite, en soveel meer, is balans deesdae vir meeste ouers ’n onbereikbare mite.

Die NetKids-program bied aan ouers ’n addisionele hulpmiddel: ’n waardevolle stukkie toerusting wat jou bemagtig om jou kind in sy/haar vroeë ontwikkeling te ondersteun.

Welkom hier by ons! Dit is vir ons ’n voorreg.

Baie liefde,

– Die NetKids-span

Dae Per Week

Ontwikkelings areas

Platform

Persent Toewyding

Kom Ons Gesels

Ligging: George, Wes-Kaap, Suid-Afrika

Bel: +27 79 496 8496

E-pos: info@netkids.co.za 

 

Privaatheidsbeleid

Ons sal nooit enige inligting wat met ons gedeel word, gebruik vir enige iets anders as die doel waarmee dit met ons gedeel word nie. Ons sal geen inligting aan derdepartye bekend maak nie, en sal nooit jou inligting verkoop nie. Hierdie webwerf word beskerm deur 'n SSL-sertifikaat.