Die beste tuisgemaakte klei – beproef en goedgekeur.

 Wat leer ons kinders wanneer ons saam met hulle bak? 

Klei is een van daardie items wat ikonies van ons kinderjare is. Met soveel resepte daar buite is dit wel soms moeilik om te weet watter een nou regtig die perfekte bal speelklei lewer – nie te taai nie, nie te droog nie, en met nét die regte hoeveelheid weerstand.

VOORDELE VAN KLEISPEEL

Kleispeel hou vir die jongspan ‘n legio voordele in – veral as ons ‘n bietjie kreatief raak met hóé hulle dit kan gebruik. Hier is kortliks ‘n paar voordele:

  • Fyn motoriese ontwikkeling: die spiere in kinders se handjies werk al te lekker terwyl hulle die klei rol, druk en manipuleer. Dít dra by tot die nodige spiertonus om uiteindelik te kan skryf en knip.
  • Moedig kreatiwiteit en verbeelding aan: Klei kan enige iets word – vrugte wat in die supermark verkoop word, syfers, balletjies wat afgetel kan word, diere, mense, klere waaraan knope ‘vasgewerk’ kan word, en nog soveel meer. Kinders moet ‘n prentjie in hulle gedagtes probeer herskep met die hulp van ‘n medium (in hierdie geval klei). Dit bou ‘n kind se vertroue in sy eie skeppende vermoëns.
  • Kalmerend: Die sensoriese aard van kleispeel het ‘n kalmerende, terapeutiese effek op kinders én volwassenes.
  • Voorlopers tot skryf en tel: Klei kan aangewend word om letterherkenning speel-speel aan te moedig. Teken letters van die alfabet lekker groot op ‘n A4 papier. Vra jou kind dan om ‘n stukkie klei in ‘n lekker lang wurm te rol, en dit dan te gebruik om die letter op die papier te vorm.
  • Brei woordeskat uit: Enige aktiwiteit kan ‘n kind se woordeskat help uitbrei – veral as ons hulle vra om vir ons te verduidelik wat hulle besig is om te doen.
  • Bou konsentrasievermoë: ‘n Kind wat verdiep is in iets wat sy met die klei probeer bou, sit vir lang tye stil en konsentreer op die taak voor haar. Hoe meer sy mettertyd met die klei kan regkry, hoe meer kompleks sal haar skeppings raak, en hoe langer sal sy haarself met die enkele taak besig hou. Hierdie is ‘n fantastiese manier om konsentrasie te oefen.

KOM ONS SPEEL

Noudat ons weet presies hoe voordelig dit vir ons kinders is om met klei te speel, kan ons gerus inspring. Vanuit ervaring kan ons sê dat min winkelrak-kleiprodukte heeltemal so lekker speel (of so lank hou) soos ‘n goeie tuisgemaakte een. Met dit in gedagte deel ons graag ‘n wenresep wat gereeld hier by ons gemeng word, in elke kleur wat ons kinders se harte begeer.

Die volgende resep kom van mothercould.com se Instagram-blad af, en is deur ouers regoor die wêreld getoets – ook hier in ons Suid-Afrikaanse kombuise. Dit voldoen aan al ons vereistes en hoë standaarde, en ontvang die NetKids-toekenning vir ‘Beste Tuisgemaakte Klei Van Alle Tye’.

So maak mens:

BESTANDDELE:

  • 1 koppie meel
  • ½ koppie tafelsout
  • 30ml kremetart (cream of tartar)
  • 15ml kookolie
  • 1 koppie kookwater
  • voedselkleursel

METODE:

  • Gebruik ‘n groterige mengbak. Voeg die meel, sout en kremetart bymekaar en meng goed.
  • Voeg die olie by.
  • In ‘n aparte beker: meng ‘n paar druppels kleursel in die kookwater in.
  • Voeg die gekleurde water by die meelmengsel.
  • Meng alles baie goed en masseer die deeg met jou hande totdat die klewerigheid weg is. Voeg gerus nog bietjie meel by indien nodig.

 

Laai die kleiresep hier af:

Daarsy – so maklik soos dit. As jy hierdie resep eers ontdek het gaan jy dit moeilik vind om ooit weer ‘n bakkie winkelklei te koop. 

Teken gerus in vir ons nuusbrief onderaan hierdie bladsy om seker te maak dat jy nie enige resepte en kunsprojekte mis nie.

Nog oulike artikels…

Lekker Vadersdag-idee’s (PDF)

Hier is drie oulike idee’s wat die jonger kinders (met ‘n klein bietjie hulp) hierdie Vadersdag vir Pappa kan maak. Die idee’s is vinnig en maklik uitvoerbaar, en gaan daardie Pappa se hart sommer WARM maak!

Wilde Diere – Gratis Aktiwiteite PDF

Hier is ‘n oulike aktiwiteit wat jy gerus vir jou 3 tot 5-jariges kan uitdruk. Hulle beïndruk jou dalk net met hulle kennis oor waar verskillende tipes diere se natuurlike habitat is.

Beste Tuisgemaakte Klei

Vanuit ervaring kan ons sê dat min winkelrak-kleiprodukte heeltemal so lekker speel (of so lank hou) soos ‘n goeie tuisgemaakte een. Met dit in gedagte deel ons graag ‘n wenresep wat gereeld hier by ons gemeng word, in elke kleur wat ons kinders se harte begeer.

Ons Bak Saam: Maklike Soetmieliebrood

Hierdie is die broodresep waarvoor jy nog altyd gewag het – vinnig, maklik en absoluut heerlik!
Laai gerus hierdie resep se PDF-weergawe af en bêre dit in jou NetKids-resepteboek.

7 Voordele Van Bak-En-Brou Saam Met Jou Kleuter

Moenie toelaat dat jou liefde vir ‘n skoon kombuisvloer jou keer om saam met jou kinders lekker dinge in die kombuis aan te pak nie – dit is die ekwivalent van ‘n verskeidenheid vakke alles-in-een…

SKRYF IN

Kry kennisgewings van ons nuutste blog-inskrywings – met oulike idee’s, interessante artikels en gratis hulpmiddels.